Send us Fan Mail
VARSVANDAG se Tweede Nuusbrief vir Oktober.
NUUSFLITS: Nuwe toring trek God se aandag!
Goeiemôre! Hier is die nuus uit die jaar ongeveer 4 225 v.C.
Ons korrespondent in Babilon berig dat ‘n sekere meneer Nimrod, bekend as ‘n groot vegter en jagter en die man wat Babilon as die eerste stad van sy ryk gevestig het, instrumenteel was in ‘n projek wat selfs die aandag van die Allerhoogste getrek het.
Die Toring van Babel is bedoel om te verhoed dat die mense oor die hele aarde versprei, en om so vir hulleself ‘n naam te maak. Nuwe tegnologie word gebruik: stene en asfalt in plaas van klip. Só word ‘n toring gebou wat tot in die hemel moet reik.
Die projek sal wêreldstatus aan Babilon en sy mense gee. Deur hul eie tegnologie, middele en vernuf wil hulle die onmoontlike vermag. Daar is spekulasie oor die werklike motivering. Gaan dit bloot om ‘n reputasie, of is daar ‘n dieper duiwelse agenda om te probeer om God te onttroon?
Ons korrespondent berig dat die werk goed gevorder het totdat die Allerhoogste afgekom het om te sien waarmee hulle besig is. Hy was glad nie ingenome daarmee nie en het hul taal verwar sodat hulle mekaar nie meer kon verstaan nie. Chaos het gevolg! Die werk is gestaak en die mense het in alle rigtings versprei. Hoe ironies dat die naam van dié stad “verwarring” beteken!
Is dit die einde van die storie? Of sal mense elders weer nuwe stede en torings bou, moontlik gemaak deur nuwe tegnologie, om vir hulleself ‘n naam te maak? Is Babilon bloot ‘n stad met ‘n toring wat in die geskiedenis opgeteken sal word, of is dit ‘n visie wat in die mens se denke geëts is, ‘n drang om ‘n naam te maak, om eie torings deur innovasie, intellek en harde werk te bou? Net die tyd sal leer!
Dit was die nuus. Bly by ons om te sien wat God hieromtrent doen!
Terug by vandag
Een van die dae is dit verkiesingstyd in Suid-Afrika. Ons bid vir ‘n vrye en regverdige verkiesing, en vir verantwoordelike en etiese kandidate wat hul pligte getrou sal uitvoer. Laat ons onthou dat ons eerstens burgers van ‘n ander Koninkryk is. Laat ons gedrag en uitsprake in hierdie tyd die gesindheid van Christus uitbeeld, want daar is ook kinders van God in ander partye.
Wil jy op ‘n praktiese manier meehelp om die boodskap van die Koninkryk van Jesus Christus tot in die verste uithoeke van die aarde uit te dra? Jy kan bid vir oop harte en getroue medewerkers, en dat die Here die finansiële middele sal voorsien om die werk te doen. Ons waardeer jou betrokkenheid. Baie dankie!
Seën, vrede en opregte VARS-groete,
Jokkie, Annelie en die VARS-span
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY