Markus 10:43-45 Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”
As jy suksesvol wil wees in dít wat jy doen, moet jy jou tyd slim gebruik - jy moet aanhou beweeg, gefokus bly en nie toelaat dat dinge jou aandag weglok nie. Maar weet jy, liefde gee min om vir tydskedules. Dit daag dikwels in die vorm van 'n ontwrigting op.
In 1996 was 'n man in Tokio, laat oppad werk toe. Skielik sien hy hoe 'n bejaarde vrou by 'n besige kruising inmekaarstort. Tientalle mense het bloot verbygehardloop. Maar hy het gestop, hulp ontbied en by haar gewag totdat die ambulans gekom het.
Hy het twee uur laat by die werk opgedaag - en is dadelik afgedank. Maande later het die vrou se familie hom opgespoor en vir hom 'n pos in hulle restaurant aangebied. Daardie klein, ongeleë daad was die begin van sy lewensroeping as ‘n beroemde sjef, om jong sjefs op te lei in diensbaarheid en eerbaarheid.
Dít is presies hoe omgee lyk - liefde wat na vore kom wanneer dit jou glad nie pas nie. Toe Jesus oor leierskap gepraat het, het Hy dít gesê:
Markus 10 vers 43 tot 45: “Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet almal se slaaf wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as 'n losprys vir baie mense.”
Om te dien beteken nie jy wil iets terug hê nie. Dit vra tyd, energie en opregte omgee vir mense wat jou niks kan terugbetaal nie. Dit kies mense bo planne.
So as jou skedule môre propvol is en iemand jou tyd nodig het - stop net 'n bietjie. Laat toe dat ware omgee jou planne omvergooi. Dit voel dalk na iets kleins, maar die Here weet daarvan.
Grootheid in God se koninkryk word nie gemeet aan wat jy bereik nie, maar aan Wie jy dien. En wanneer jy afbuk om iemand anders op te tel, sal jy agterkom jy staan presies waar Jesus gestaan het.
Podden och tillhörande omslagsbild på den här sidan tillhör
Jokkie Gauché on behalf of Berni Dymet. Innehållet i podden är skapat av Jokkie Gauché on behalf of Berni Dymet och inte av,
eller tillsammans med, Poddtoppen.